Vlieë van veterinêre belang in Suid-Afrika


Goeiedag almal!

Baie welkom by ons splinternuwe blad. Om die blad in te wy, het ek so bietjie in die argiewe gaan rondkrap en besluit om hierdie artikel oor vlieë te plaas, wat ek as deel van my werk vir MSD gedoen het. Kyk uit vir nog interessante brokkies in die toekoms!

Groete

Dr Brand van Sittert

Vlieë van veterinêre belang in Suid-Afrika

Vlieë is ‘n besondere groep insekte en bevat baie spesies wat op mens en dier parasiteer. Hulle veroorsaak probleme in diere deur as verspreider van siektes op te tree, deur diere te steur en ongemak te veroorsaak of deur vel wonde te veroorsaak of te vergroot. In die insek klas val die vlieё in die orde ‘Diptera’, wat letterlik ‘twee vlerke’ beteken. Hulle word verder onderverdeel in die vlieë wat lang voelhorings besit (bv. muggies en muskiete) en die met kort voelhorings. In hierdie inligtingstuk gaan ons op vlieë met kort voelhorings fokus. Hulle sluit in:
• Perdevlieë of blindevlieë
• Neusvlieë (skaapneusvlieë en uitpeuloogvlieë)
• Perdepapievlieë
• Huis- en verwante vlieë (Huisvlieë, stalvlieë, lasvlieë, horingvlieë)
• Tsetsevlieë
• Brommers
• Luisvlieë

Algemene lewensiklus

Elke vlieg begin as ‘n eier, broei uit as ‘n larf, die larf vervel dan ‘n paar keer voordat dit die papiestadium bereik waaruit ‘n volwasse vlieg te voorskyn kom. In sommige gevalle (bv. die tsetse) kan ‘n larf selfs lewendig gebore word, sonder dat ‘n eier gelê word. Larwes en volwassenes het dikwels verskillende voedingsbronne, en dit is belangrik om die lewensiklusse te onthou wanneer hierdie parasiete beheer moet word. Daarom kan larwes se broeiplekke ontwrig word, of waar dit nie moontlik is nie, kan volwassenes geteiken word.

Perdevlieë en blindevlieë

Lewensiklus

Hierdie vlieë hou van sonlig en hitte en val gewoonlik groter diere aan. Die volwasse wyfie byt diere om bloed te verkry, waarna die eiers dan, nie vêr daarvandaan in klam, verrottende plantmateriaal of in modder en moerasse gelê word. Dit kan tussen 3 maande tot 2 jaar neem vir die larfstadia om voltooi te word, voordat ‘n kort papieperiode aanbreek.

Veterinêre belang

Bytwonde is geweldig pynlik en versteur die dier. Verder het hierdie vlieë groot potensiaal om bloedparasiete soos galsiekte (anaplasmose) meganies te versprei.

Beheer

Indien broeiplekke geïdentifiseer kan word, kan hierdie gebiede geteiken word deur chemiese metodes of deur die area meganies te versteur en te droog. Dipstof groepe soos organofosfate en piretroïede (bv. DELETE ALL) kan ingespan word om volwasse vlieë op gasheerdiere te beheer.

Neusvlieë

Hierdie vlieë se larfstadiums ontwikkel in die neus- en keelholtes van hul gashere, soos skape, bokke en wildsbokke. Velpapievlieë daarteenoor, kom nie in Suid-Afrika voor nie.

Skaapneusvlieë

Lewensiklus

Die volwasse vlieё voed nie op diere nie, maar hulle produseer larwes wat op liggaamsvloeistowwe voed wat probleme kan veroorsaak. Skaapneusvlieë lê larwes rondom die neusgate wat dan in die neusgate en sinusse inkruip.

Veterinêre belang van neusvlieë

Die larwes irriteer die slymvliese geweldig wat inflammasie, sekondêre infeksie en slymafskeiding veroorsaak. Dit kan veral ‘n probleem raak tydens teelseisoen waartydens ramme moet steun op hul reuksintuig. Dit kan ook gewigsverliese in lammers veroorsaak.

Beheer van skaapneusvlieë

Sistemiese middels soos makrosikliese laktone (IVOTAN), organofosfate (UNIDOSE), nitrofenole en salasielanalides (TRI-DOSE ORAL, NASALCUR) is effektief. Dit is baie moeilik om die volwasse vlieë te teiken.

Uitpeuloogvlieë

Lewensiklus

Uitpeuloogvlieë is parasiete van ‘kop knikkende’ wildsbokke soos wildebees, hartebees, blesbok, bontebok en tsessebe. Soms spoel hierdie parasiete egter oor na huisdiere toe wat dan probleme veroorsaak. Eiers word rondom die oё gelê. In die normale wildsbok gasheer migreer die larf deur die oog se bloedvate tot waar dit in die sinusse volwassenheid bereik. In wildsbokke veroorsaak hierdie parasiet weinig reaksies, selfs met baie groot parasietladings.

Veterinêre belang

In abnormale gashere (soos die plaasdiere) sukkel die larf om na die sinusse te migreer en word ‘n erge oogreaksie (uitpeuloog), senuweesimptome of selfs hartprobleme veroorsaak.

Beheer van uitpeuloogvlieg

Sistemiese plaagdoders soos makrosikliese laktone kan gebruik word. Die siekte kan gedeeltelik voorkom word, deur kontak tussen wild en plaasdiere te vermy vanaf veral Oktobermaand tot Mei. In plekke met koue winters kan plaasdiere en wildsbokke saamwei vanaf Junie tot September. Wilde diere kan ook met ivermektiene behandel word indien hulle verskuif word na nuwe areas waar plaasdiere in die omtrek is.

 

Perdepapievlieë

Hierdie vlieë kom hoofsaaklik in die spysverteringskanaal van perde, donkies en zebras voor.

Lewensiklus

Die larwes word óf op die hare van die gasheer óf op plantmateriaal gelê vanwaar dit dan opgelek of geëet word. Die larf boor dan in die slymvliese van die mond in, waar hulle dan vir drie tot vier weke vertoef en vervel. Hierna beweeg die larf na die maag waar dit vir tot sewe maande kan aanheg. Hierna beweeg die larf na die dikderm waarna dit uitgeskei word met die mis en in ‘n papie verander, gewoonlik rondom September.

Veterinêre belang

Larwes leef van weefselafskeidings. In baie gevalle kom hierdie larwes voor in die spysverteringskanaal sonder enige simptome. Soms word die besmetting egter erger en kan nekrose in die mond plaasvind. Die beweging van kos deur die maag kan versteur word en maagulkusse of prolaps van die rektum kan voorkom. Tydens periodes van swak voeding kan swaar besmetting die diere ook verder onder onnodige stres plaas.

Beheer

Sistemiese middels soos makrosikliese laktone (SOLUTION 3.5% L.A.) is effektief om die larwes te dood. Diere moet in die winter behandel word, terwyl die larwes in die gasheer oorwinter. Eiers kan verwyder word deur diere gereeld te roskam.

Huis- en verwante vlieë

Huisvlieë

Lewensiklus

Eiers word gelê op omtrent enige moontlike beskikbare dooie organiese materiaal (bv. suiker, melk, karkasse, mis, en ander liggaamsafskeidings). Onder optimale omstandighede, broei die eiers binne 8 tot 12 ure uit. Die hele lewensiklus kan onder gunstige omstandighede binne 12 dae voltooi word.

Veterinêre belang

Behalwe vir die irritasie wat dit hulle veroorsaak dra huisvlieë siektes oor deurdat hulle gereeld sit en voed op besmette oppervlaktes. Siektes wat so oorgedra kan word, is byvoorbeeld mastitis, blindvliesontsteking, miltsiekte en nuwesiekte. Neem ook kennis dat hierdie vlieё as tussengashere kan dien vir Habronema rondewurm. Parafilaria in beeste word algemeen deur die vlieё oorgedra deurdat die vlieё die besmetlike onvolwasse larfies vanuit bloed uit die velwonde opslurp. Die geskied veral in die somermaande as die vlieg populasie ook baie groter is.

Beheer

Groot spronge in beheer kan bereik word deur potensiële broeiplekke soos mis, ontbindende materiaal en vullis te verwyder of te bedek. Voedingsbronne wat uitdroog (soos mis wat dun gestrooi word) of met jonghornmoon behandel word, is ongunstig vir die voltooiing van die lewensiklus. Lokvalle vir vlieë en chemiese beheer van volwassenes op diere (bv. piretroïede soos DELETE, DELETE-X5 en DELTAB backpack) , mure en vliegskerms is ook effektief.

Stalvlieë

Lewensiklus

Hierdie vlieë lyk soos huisvlieë, maar steek diere en suig bloed. Nadat die wyfies gevoed het, gaan lê hulle eiers in baie klam, gistende plantmateriaal, gemeng met mis. Afhangende van die temperatuur, kan die lewensiklus so kort as 12 dae duur en tot so lank as 58 dae duur.

Veterinêre belang

Die vlieë val mense en diere soos honde, varke, lammers, beeste en perde aan. Die ledemate word veral geteiken, maar die ore van honde en varke loop ook deur. Die byt is pynlik, irriterend en kan selfs sere en rowe vorm. Byte veroorsaak gevolglik ook stres en ‘n afname in immuniteit. Siektes soos anaplasmose, miltsiekte en dermatofilose kan ook meganies oorgedra word. Stalvlieë dien ook as ‘n tussengasheer vir ‘n rondewurm spesie (Habronema majus) in perde.

Beheer

Soos met die huisvlieg, kan baie vordering gemaak word met die vernietiging van broeiplekke. Die gereelde toedien van insekdoders op beide die gashere (piretroïede bv DELETE, DELETE-X5 en DELTAB backpack) asook die rusplekke (mure in stalle) kan volwassenes se getalle help in toom hou. In sommige opsette kan vlieg kleefbande ook ‘n effek op getalle hê.

Horingvlieë

Hierdie vlieë is gasheer spesifieke parasiete van hoofsaaklik beeste. Hulle drom saam op veral die rug van beeste waar die byte geweldige irritasie veroorsaak. Omdat volwasse vlieë gasheer spesifieke parasiete is sal die aanwending van dipstowwe soos piretroïde effektief wees.

Tsetsevlieë

Die tsetsevlieë gebruik reuk en sig om diere en mense op te spoor vir ‘n bloedmaal.

Lewensiklus

Die wyfie dra ‘n eier todat die larf uitbroei waarna die wyfie die larf in ‘n skaduryke area deponeer. Huidiglik kom tsetsevlieë net in Zululand voor.

Veterinêre belang

Tsetsevlieë is oordraers van trypanosomiase (slaapsiekte) by mense en diere.

Brommers

Die volwasse brommers kom vrylewend voor maar die maaiers voed op diereweefsels.
Brommers kan in twee groepe ingedeel word; metaalkleurige brommers en nie-metaalkleurige brommers.

Metaalkleurige brommers

Hierdie brommers het ‘n blink metaalagtige skynsel wat groen, blou of pers kan wees. Hulle sluit in die groenbrommers, Europese groenbrommers, koperstertbrommers, bloubrommers (bloubottels), en gestreepte brommers

Algemene Lewensiklus

Eiers word in karkasse gelê en broei onder gunstige omstandighede uit binne 8-12 uur. Larfies kan binne drie dae klaar gevoed en vervel wees en nog agt dae later kan die papiestadium voltooi wees en as ‘n volwasse vlieg te voorskyn kom. Onder ongunstige toestande soos in wintermaande kan hierdie proses egter met ‘n paar maande vertraag word. Brommergetalle neem veral toe na die eerste lentereëns, neem af gedurende die warm somermaande en toon weer ‘n uitbraak in herfs.

Veterinêre belang

Verskillende brommers word in verskillende stadiums na verrottende diermateriaal gelok. Groenbrommers, koperstertbrommers en bloubrommers daag gewoonlik eerste by ‘n karkas op waar hulle voed en eiers lê. Hierdie brommers is dan veral ook betekenisvol in die verspreiding van miltsiekte oor groot afstande. Die larfies van hierdie brommers het oorwegend gladde liggame. In sommige omstandighede pas primêre brommers aan om op lewende diermateriaal te teel eerder as op karkasmateriaal. Hierdie omstandighede vind veral plaas wanneer daar langdurige vog in die wol van skape is, wat ontbinding van die wol en boonste vellae veroorsaak. Skape van wie se wol dus gedurig nat is, is veral vatbaar. Omstandighede wat hiertoe aanleiding kan gee is diarree, sweterigheid in velvoue, vagvrot, ander wonde en lang wol rondom die peester of vulva.
Nadat die ontbinding en die teenwoordigheid van primêre brommers veroorsaak het dat die dieremateriaal begin versap, word sekondêre brommers (die gestreepte brommers) gelok. Hierdie larfies is ‘harige larwes’ weens vlesige uitsteeksels op hul liggaam. In gevalle waar primêre brommers lewendige diere aangeval het, vergroot hierdie larwes, deur die wonde tonnels in die lewende weefsels in te grawe.

Beheer

Plaagdoders kan gedurende gevaartye vir brommers (September tot Maart), op skape gespuit word en kan in samewerking met goeie plaashigiëne ingespan word in die stryd teen brommers. Goeie plaashigiëne sluit in om karkasse vroegtydig te verbrand of te begrawe. Probeer sover moontlik wonde voorkom wat brommers sal aantrek. Stertlengte moet nie te lank of te kort wees nie. Die wol, op die broekgedeelte kan ook geskeer word, veral in ooie. Dipmiddels kan spesifiek op gevaarareas op die liggaam (soos die broekarea of rondom wonde) toegedien word per hand of met ‘n spuitgeweer (bekend as ‘n/die ‘mikspuit’). Plaagdoders wat brommeraanvalle verhoed, sluit in organofosfate (ZIPDIP) en chitien sintese inhibeerders (FLEECECARE).
In skape wat reeds deur larwes aangeval is moet die wol rondom die wond geskeer word, soveel larwes moontlik meganies verwyder word en die wond ontsmet word. Die toedien van organofosfate op die larwes kan hul steur en help om hulle uit die wond te kry. Makrosikliese laktone sal oorblywende larwes doodmaak en vir ‘n tydperk herbesmetting voorkom, afhangend van die langwerkendheid van die produk. Langwerkende antibiotikas kan ook help om besmette wonde vinniger te laat genees.

Bosveldspykerwurm

Hierdie brommers kom veral voor in die bosveld en laeveld, en deel die verspreiding van bontbosluise. Hulle teel slegs op lewende weefsels van beeste, skape, honde en selfs die mens.

Lewensiklus

‘n Paar honderd eiers word op die rante van wonde gelê waar hulle na bietjie minder as 24 uur uitbroei onder gunstige toestande. Die larwes bly in die wond vir ongeveer 5 dae voordat papies vorm en uit die wond val. Na ongeveer ‘n week kom die volwasse vlieë te voorskyn wat weer eiers in wonde gaan lê.

Veterinêre belang

Die volwasse vlieë soek gewoonlik beserings soos wonde, absesse en bosluisbytplekke om eiers te lê. Die larwes vergroot dan die wond en die wond kry ook ‘n sekondêre bakterieële infeksie op.
Beheer
Probeer om prosedures wat wonde kan veroorsaak eerder tydens die winter te doen. Wonde kan ook voorkomend met ‘n gepaste dipstof of sistemiese middel behandel word (bv. DELETE-X5, DELTAB backpack, DELETE ALL en makrosikliese laktone). Indien wonde klaar besmet is, moet dit skoongemaak word deur soveel moonlik van die larwes meganies te verwyder, tesame met ‘n dipstof wat die larwes sal irriteer en uit die wond laat beweeg. Langwerkende makrosikliese laktone word voorgestel om herbesmetting te voorkom.

Nie-metaalkleurige brommers

Hierdie brommers vertoon gewoonlik ‘n dowwe grys of geelbruin kleur.

Tumbuvlieg of mangovlieg

Lewensiklus

Die wyfie lê eiers op areas wat besmet is met mis of uriene, wat ook menslike klere soos babadoeke insluit. Na drie dae broei die eiers uit en jong larwes wag totdat dit in kontak kom met ‘n geskikte gasheervel. Na kontak, dring die larf die vel binne waar dit vir ongeveer 8 dae bly voordat die larf weer uitval om ‘n papie te vorm.

Beheer

Algemene higiëne kan voorkom dat die vlieg in die omgewing eiers lê. In die geval van mense, kan die stryk van klere in areas waar die vlieg voorkom (soos in die noordelike dele van die land) voorkom dat eiers uitbroei of larwes in kontak met ‘n gasheer kom. In diere wat klaar besmet is, kan larwes redelik maklik uitgedruk word en dit word verkies om eerder larwes meganies so te verwyder as deur middel van chemiese verwydering. In gevalle waar Chinchillas besmet is, kan een of twee wurms ‘n toksiese reaksie veroorsaak en tot die dier se dood lei.

Vleisvlieë

Lewensiklus

Die wyfie bring lewende larwes voort wat voed op mis, karkasse en wonde.

Veterinêre belang

Kan soms maaierbesmetting veroorsaak in mense en diere.

Beheer

Goeie higiëne soos verwydering van mis in aangetaste gebiede en plaaslike wondbehandling.
Skaapluisvlieg (skaapked) en blindevlieg of luisvlieg van perde
Volwasse luisvlieë kom gewoonlik oorwegend op die gasheer voor. Die vlieë is gewoonlik hinderlik en mag ook bakteriële siektes oordra of selfs bloedarmoede veroorsaak. Luisvlieë word maklik deur die korrekte dipstowwe (piretroïede, makrosikliese laktone, amitras en organofosfate) behandel en deur te skeer.

Samevatting

Daar is verskeie vlieëspesies wat probleme kan veroorsaak in ons plaasdiere. Deur egter ‘n geïntegreerde plan toe te pas wat die lewensiklus op verskeie areas teiken, kan die probleem oorkom word!
Delete All, G2837 (Act 36/1947)
Opgietmiddel wat 2 % Amitraz, 0.5 % Deltametrien en 2 % piperonyl butoksied bevat.

Delete X5, G3279 (Act 36/1947)
Dip of spuitmiddel wat 5 % Deltametrien bevat.

Deltab Back-Pack , G2518(Act36/1947)
Dip of spuitmiddel wat 25 % m/m Deltametrien bevat.

Ivotan, G2858(Act 36/1947)
Bevat 1% Ivermectin m/v

Uni-Dose, G 3078 (Act 36/1947)
Wireworm and nasal bot remedy containing Trichlorfon 20% m/v.

Tri-Dose Oral, G 3103 (Act 36/1947)
Contains 5% Closantel m/v.

Nasalcur, G1831 (Act36/1947)
Oral drench containing Rafoxanide 3,0% m/v.

Solution 3,5 % L.A. G3689 (Act 36/1947)
Contains Ivermectin 2,25% m/v, abamectin 1,25% m/v.

Zipdip G381(Act 36/1947)
Contains 40% m/m Triazophos.

Fleececare G1743 (Act 36/1947)
Contains Diflubenzuron 250g/l.

Verwysings

Nevill,EM 2004. Vectors: Muscidae, in: Coetzer, J, Tustin, RC (Eds.), Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press Southern Africa, Kaapstad, pp. 77–86.
Howell, C, Walker, JB, Nevill, E, 1983. Bosluise, myte en insekte van huisdiere in Suid-Afrika. Departement van Landbou-tegniese dienste, Pretoria.
Nevill, EM, Phelps, RJ, Stuckenberg, BR, 2004. Vectors: Tabanidae, in: Infectious Diseases of Livestock. Oxford University Press Southern Africa, Kaapstad, pp. 87–92.
Reg no. ZA/ORUM/0814/0019